Bali op Kortskrif.

Jolene Potgieter & Lara Erasmus.

Kleurryke strande, geursame disse, vriendelike mense en rande wat rek... Dis nie moeilik om te sien waarom Bali onder ons gunsteling wêreldbestemmings is nie. Hiermee ons voorkeur doene-en-dinge op die eiland.

Ubud is skaamteloos en waaghalsig groen. 

Ubud – 2 tot 3 nagte. 


Dertig kilo’s buite die lughawe, lê Ubud – bekend vir sy ryslande, apies, koffie en kunsgalerye. Om in hierdie binnelandse stad te begin werk goed aangesien ‘n mens dan nog propvol energie en nuuskierigheid is. Later, terug naby die strande, kan lui-lekker kusdae sonder skuldgevoel geniet word.

In Ubud, sowel as die res van Bali, beveel ons aan dat jy ‘n bromponie huur. Teen R70 ‘n dag, is die eiland joune. Die bestuur van hierdie motorfietsies is verbasend maklik, die gevoel daarmee gepaard uiters bevrydend. 

Swaai hoog bo die ryslande. 

Eerste stop - Tegallalang ryslande. (dag 1)


Baan jou weg deur die spiraal-paadjies na die Tegallalang ryslandgoed. Die lug is geurig in blomme en kakao, die bries vars en welkom. Eers daar, wag klimme en dale in ‘n skaamtelose en dramatiese groen – asemrowend. Teen R100 kan jy van die bekende ‘Bali Swings’ gebruik maak – vat vlerk en sien die pragtige prentjie van bo. Daar is ook talle uitkyk kaffees en koffiekarretjies – probeer ‘n vars geperste vrugtesap, en val dan weer in die pad. 

 Bali Pulina - 'n wondertuin en koffieplantasie.

Dan – Bali Pulina koffieplantasie. (dag 1)


Met die intrapslag by Bali Pulina, is ‘n mens dadelik vervoer tot ‘n wonderwêreld... Vanielje, kakao, aloe vera en klapper groei ruig alom die wandelweë. ‘n Personeellid verwelkom ‘n mens, en vertel dan oor die eksotiese keur natuurmiddels wat binne die tuin groei. ‘n Gratis koffie-proe sessie word aangebied, en sluit alles van ginseng- tot gemmerkoffie in.  Teen ‘n extra R50, kan daar ook gesmul word aan Bali se bekende Luwak-koffie – daardie wat gemaak word uit die Luwak-kat se mis... Interessant, om die minste te sê! 

Vulkaan Batur; die son ontbloot die skepping stuk-stuk. 

Daarna – middernagtelike Berg-manewales! (dag 2)


Dis drie-uur die oggend, pikdonker en verbasend warm...Bali se jasse groen lê weggesteek onder die nag se swaar kombers. Die vulkaan Batur word al vir dekades in die donker uitgetrap deur pelgrims. Vandag is dié berg ook ‘n bekende toeriste-aantreklikheid.  Eers bo, is ‘n mens gas tot wat voel soos God se kunskamer. ‘n Skemerson ontbloot belynings – berge, wolke en skadu’s. Dan skielik, en amper onverwags – diep kleure. ‘n Gordyn word oopgemaak en lyne word prente. Die horison geverf in oranje en blou en wit en groen. Wees seker om stapskoene aan te trek, en onthou ‘n baadjie! 
 

Bali is 'n kleur-en-geur paradys.

Uiteindelik – Kook & geniet... (dag 3) 


Kos in Bali is vars, uniek en smullekker! Wat nog lekkerder, as om dit self te maak. Skryf in vir ‘n kookklas! Hierdie klasse kan deur hostels en hotelle bespreek word, of aanlyn op Viator of Get Your Guide. Besoek ‘n tradisionele kosmark vir bestanddele en spring daarna aan die werk onder ‘n Balinese koskenner. ‘n Driegang maal word voorberei en daarna as kookgroep geniet. 
Ander aantreklikhede sluit in die Monkey Forest, Tirta Empul Water Temple & Champuhan Ridge. Wees ook seker om in die dorp te gaan draai – ‘n keur sjarmante galerye, winkels en restourante wag. 

Canggu, Bali. 

Canggu & Seminyak – 1 tot 2 nagte. 


Nou vir lui-lekker dae, terug teen die kus. Redelik nuut tot die toeristekaart, is Canggu – ‘n hub van idees, uitlandse entrepreneurs en binnelandse entoesiaste. Die kuslyn is pragtig... ‘n String strand kafees maak vir voor-ry sitplekke tot asemrowende sonsondergange. Absoluut heerlik, veral gepaard met uitspattige drankies in kokosneut en hout. ‘n Rits vanuit Canggu, lê Seminyak – weereens propvol sjarme en prag. Hier het ons vir ‘n dag uitgespan by een van Bali se ‘Beach Clubs’ – dink masserings, swembadstoele, musiek en bier. Ons was by LV8. Daar is egter ‘n groot kies-en-keur beskikbaar wanneer dit by hierdie uitspan-besighede kom. Changu & Seminyak is ook bekend vir sy markies en branderplankry. Oorweeg gerus ‘n les of twee! 

Ons bootkaptein; Nusa Penida hawe.

Nusa Penida – 3 tot 4 nagte.

 

Neem nou die boot vanaf Sanur tot in Nusa Penida, ‘n kleiner eiland op Bali se buitewyke. Met die intrapslag op die hawe, voel Nusa dadelik meer eg en etnies. Die paaie het meer slaggate en die locals se oë is groter vir toeriste – dis ongetem en eerlik.

Klim-en-klouter af tot op Kelingking-strand. 

Moenie misloop nie – die strande! (een of twee dae)


Volgens ‘n 2018 Instagram-verslag, spog Nusa met die wêreld se mooiste strande. Ons kan beaam dat dit die waarheid is. Die lys is lank – Angel's Billabong, Crystal Bay, Atuh, Diamond en soveel meer... Onder ons gunsteling was Kelingking – ‘n witsand strand wat homself huisves binne die buik van ‘n massiewe kliphang. Berei voor op ‘n komieklike klim-en-klouter teen die berg-af...Dra tekkies! Uiteindelik onder, is die water ‘n warm blou – so asof die diepsee op die kus kom kuier het. Dis ‘n prentjiemooi panorama. Swem, span-uit en geniet! Nusa, soos die res van Bali, spog ook met meer ingerigte strande waar alles van swembadstoele tot drie-gang maaltye voor gevra kan word. Hiervoor was ons by Atuh Beach. 

Jolene & Lara - snorkeltoer. 

Beslis jou kluitklaplysie werd – snorkel. (een dag)


As jy net twee dinge in Bali kan doen, maak dit vulkaan Batur en hierdie... Die wêreld onderwater is ń kleuter met kleurkryt - gemaklik kreatief en sonder lyne. Onder die oppervlakte skuil duisende vissies en krappe en korale. Meer as wat ‘n mens kan inneem.  Absoluut pragtig. Byna lewensveranderend. 


Wees ook seker om by Nusa se plaaslike kosmark te gaan eet – dit lyk na niks, maar bars van geure. Vir ‘n appel en ‘n ui, kan plaaslike hoenderdisse, ryse en tees geniet word. 

Sonsondergang - Sanur. 

Sanur – 1 tot 2 nagte. 


Weer op die hoofeiland, baan jou weg na Sanur. Teen die strand lê talle hipster hangouts, tog bly dit eg Balinees. Dié stad spog met heerlike musiek en musiekoptredes – perfek om Bali se naglewe te beleef, en (minstens volgens ons) veel lekkerder as Kuta. Draai by Beatles Cavern Bar en sluit die aand af by Casablanca. Verdermeer, het Sanur ook ‘n keur heerlike winkeltjies en strande. Dagtoere, soos die na die enig-in-sy-soort komodo-draak eiland, kan ook van hier behartig word. 

Die bogenoemde is ‘n druppel in die emmer wanneer dit kom by plekke, aktiwiteite en besieningswaardighede in Bali... Wat ons wel vir jou kan sê, is dat hierdie eiland-bestemming heelbo aan jou lysie hoort. Die Balinese is vriendeliker as Zuma voor ‘n verkiesing, die kos is kleurryk en uiters geursaam, en, beste van al: in Bali is selfs ‘’duur’’ goedkoop. Strek jou rande en verbreed jou horisonne op hierdie pragtige eiland! Ons kan jou waarborg jy sal veranderd en verfris terugkeer. 

Lara en Jolene is die mede-stigters van Reis Afrikaans. Vir meer oor hulle besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.