Clarens op 'n Drafstap.

Lara Erasmus & Jolene Potgieter.

Na die vierde vraag loer Natasha skepties oor haar dikraam bril – die soort wat onderwysers tipies dra. Haar broek hang los – gemaklik. En alhoewel die staproete eers vroegoggend afskop, is haar t-hemp ‘n paar dae gelede laas gewas. Haar regterhand werk oortyd om die blikkoppie vol sjerrie by haar lippe te hou; in haar linkerhand swier 'n sigaret. Ons het hulle skaars 'n halfuur gelede ontmoet, en alhoewel hulle by die dertig-jaar ouer is as ons , en waarskynlik ook ons ouers sou  kon wees, is dit vinnig duidelik dat 'n interessante naweek op ons wag.

Is daar iets lekkerder as om te hike?

Konteks:

 

‘ons’ – Lara & Jolene. Albei studente. Albei twee-en-twintig. Afrikaans. Avontuurlustig (al te wel – ons wil wees.) Anders (al te wel – ek hoop so.)

 

‘hulle’ – Natasha en Hannah-Lize (‘n paartjie) & Diane en Yvonne (ook ‘n paartjie). Almal werkend. Almal tussen veertig en vyftig jaar oud. Avontuurlustig (al te wel – ons dink so). Anders (duidelik.))

 

Om ons is ‘n stukkie hemel wat nog nie deur mense verniel is nie. Van links na regs en van onder tot bo is berge, aangetrek in jasse boomgroen en met stof en stroom grimeer. So 6 kilo’s padlangs en jy is in Clarens. Tel 350 kilo’s by en ons is by die huis. Tog neem die twee-dag toer na die Vrystaat ons om die aardbol, en besef ons – weereens! - dat die wêreld baie nader en meer toeganklik is as op ‘n vliegtuig spring Vietnam toe. 

Brandwag Butress in Golden Gate. 

‘n Week of wat vantevore vibreer my foon. Ek sit by die eetkamertafel en droom van ‘n wêreld wat iewers daar buite wink. Wanneer ons uiteindelik klaar geswot is, wannneer ons uiteindelik genoeg gespaar het, wanneer ons uiteindelik nie meer kind, maar ook nie heeltemal volwasse is nie. Ek dink aan eendag. En dink dan hoe ‘eendag’ 'n gevaarlike woord is. ‘n Antoniem vir nooit… en tog so maklik ook 'n sinoniem: ‘n versagting; ‘n vertroosting. Die gekraakte skerm verkondig ‘n Whatsapp-boodskap van Jolene, my eerste en beste vriendin. Dis ‘n webwerf skakel. Iewers in Pretoria is sy besig om te dink aan vandag en aan môre. Die skakel neem my na ‘n staproete by St. Fort’s huis en hotel in Clarens… en uiteindlik neem dit my na die oomblik in die huidige waar ek oorkant Natasha by die vuur op St.Fort’s staan. 

Op die Cannibal-roete in Clarens. Kom stap saam!  

Natasha vertel hoe Hannah-Lize ‘n jaar en vier maande vantevore oor haar pad gekom het, nogal op ‘n eensame Valentynsdag. Agter haar bekyk Diane en Yvonne hul staprugsakke, en bespiegel oor hoe alles gaan inpas. Die gesprek handel oor ‘n knaap by Cape Union wat hulle die vorige dag gehelp het om dié kapaas uit te kies. Ek wil-wil by die geselsery betrokke raak, maar dan val Natasha weer in. Oor die loop van die aand, en die volgende twee dae, stik ek en Jolene stuk-stuk die lappieskombers van hierdie vier vrouens se lewens aanmekaar. Natasha is Ingrid Jonker – kleurvol, maar iets gee die gevoel van 'n swaar en donker verlede. Tong-in-die-kies benoem sy haarself die baanbreker van Nelspruit – die eerste persoon om openlik lesbies te wees. Na haar skep meer mense van dié stad moed om dieselfde te doen. Sy vertel ons hoe jarelange huisvriende haar skielik nie meer wou soen-groet nie, en hoe die tannie’s met groot verwarring sê-vra ‘maar Natasha, jy is dan nog so dieselfde as altyd?!’ Sy vertel van haar verlowing aan ‘n Wian en van ‘n lewe leef wat goed lyk, ongeag of dit goed voel. Sy vertel hoe die familie uiteindelik haar seksuele orientasie aanvaar, maar haar jongsus nogsteeds net ‘n paar weke gelede haar neus optrek toe sy hoor Natasha en Hannah-Lize trou. Die ander drie is minder spraaksaam, maar hul paaie loop ook draaie en doringbosse tot waar hul vandag openlik met mekaar, en voor ons, sit.

Saans word daar deurnag in 'n berghang grot. 

Ek en Jolene het grootgeword in 'n samelewing wat aanvaarding vier, een waar al minder mense jou skeef uitkyk as jy ‘skeef’ is. Een waar rugbyspelers en redenaars albei plek het. Een so divers soos die Clarens landskap wat nou rondom ons in ‘n diep skemer verkleur. En skielik, soos wat ek na hierdie vroue luister en dink aan my vriende wat rugby speel en die wat redenaars doen, en ook aan myself, is ek bitter dankbaar.

 

Volgende oggend vroeg uit die vere, voet in die pad. Op stuk so styl dat jy al bobbejaan-hande-viervoet klim, en dan skielik weer afdraende dat jou tone by jou tekkie se voorkant wil uit. Ek smeek en soebat vir my brein om te onthou – die grot ingekleur in mos, die enkelstroompies wat trane teen die berghange afhuil, bome wat lyk soos populiere en bome iewers uit Thailand se diepste bos. Maar ek weet wanneer Pretoria weer om my raas en daardie taak moet inwees en 'n vriendin my irriteer, ek nie regverdiging tot hierdie oomblik sal kan bring nie. Vir reis en vir mense is daar soms net die nou. Ek en Jolene loop voor. So nou en dan vang die ander by ons op; swoegend kondig Natasha dan aan dat ons maar moet voortgaan. Sy wil eers ‘n sigaret rook.  Dan begin sy weer stories vertel – die keer uit Taiwan en dan Namibië en dan van die Australiër wie sy heel per ongeluk in mensmis sit en vry het. Ingrid Jonker. 

Kos word saamgedra en om 'n kampvuur geniet.

Die wandelpad neem ons tot bo-op die berg en dan weer tot  in haar diepste ingewande, tot ons uiteindelik rus kry in haar buik. Vrydagaand in ‘n grot geslaap. Ek wens ek kan elke oggend so wakker word. Maar soos meeste goeie dinge kom dit te vinnig en is dit te vinnig verby. Die volgende dag is ek en Jolene eerste terug op basiskamp. Die pad Pretoria toe voel skielik lank en ons wil voor donker tuis wees. Agter uit haar Ford Figo kom Jolene met pen en papier. ‘Liefste ‘ou’ tannies’ begin ons die brief, maar om die draai verskyn Yolandie, Diane, Hannah-Lize en Natasha. Ons groet in persoon. Ons vra nie nommers nie en ook nie vanne nie, maar op Jolene se kamera is daar foto’s van hulle en op hulle s’n van ons. Oomblikke, gedagtes, idees – ‘n stukkie van die wêreld een petroltenk van die huis af.

 

Die Figo se enjin word woer-woer wakker. Ons ry weg, en toe ons omkyk drink Natasha ‘n bier.

 

 

CANNIBAL HIKE – CLARENS, VRYSTAAT, SUID-AFRIKA:

 

Wat het ek nodig? 2 dae, een petroltenk en baie avontuurlus.

 

Wie? Die staproete word klassifiseer as maklik-middelmatig, dus geen verskonings nie. Daar is egter met tye klimrame en styltes wat gevaarlik mag wees vir n jong kind.

 

Waar? St.Fort’s Gastehuis en Hotel, so 6 kilo’s buite Clarens.

 

Hoeveel? R400 (2018 - bevestig op hulle webtuiste.)

 

Hoeveel – regtig? Begroot ook vir petrol- en tolgeld. Vanuit Pretoria (Hatfield) het dit ons so R400 per persoon gekos, maar hoe voller die kar hoe minder die petrolgeld. Vir kos was dit net oor die R300. En vir die pasteie wat ons na die tyd op Clarens gekoop het n verder R30. Ander uitgawes mag insluit n staprugsak. As jy nog wik-en-weeg of jy wel n stapper is – leen een. Stapskoene is nie noodsaaklik nie, daardie gym tekkies wat in die kas lê en stof vergader sal voldoen. 'n Camelback vir water is gerieflik, maar weereens nie doodsake nie.

 

Hoe dit werk? Die staproete laat 16 persone op 'n slag toe. Vir R300 kry jy n bed op basiskamp die eerste aand en n matras in die grot die tweede aand. Vuurmaakhout, n rooster, potte en panne en n ketel word beide in die grot en op basiskamp voorsien. Daar is nie 'n gits nie, eerder merkers om jou eie weg te baan. Let ook daarop dat jy alle fasaliteite, die grot en die roete met ander stappers wat vir dieselfde tyd bespreek het deel – maak dit deel van jou avontuur.

 

Hoe? Om 'n bespreking te maak is so eenvoudig soos n e-pos stuur.

 

Vat saam? Alle kos moet self voorsien en saamgedra word. Geblikte tuna, ProVita, biltong en droë vrugte werk soos 'n bom vir deur die dag en is lig om te dra. In die aand word daar gebraai. Ons het vooraf vleis gevries. Lugdigverpakte vleis sal ook werk. Braaibroodjies en aartappels maak vir heerlike bykosse. Die aartappels kan in foelie direk op die vuur gebraai word. Water is baie belangrik. St. Fort’s se webtuiste se daar is plek om vol te maak langs die pad,baie van hierdie waterbronne vloei egter nie. Ons beveel dus aan om alle water saam te dra. Tussen 1.5 en 2 liter per dag is meer as genoeg. Daar is n kliphuisie naby die grot waar jy bottels kan vol maak vir dag 2 se terugstap. Die kliphuis het ook n spoeltoilet en koue stort, maar as die nood enige tyd voor of na die grot kom is dit bossies en iemand wat cavey hou. Moenie oorbodig klere saam dra nie. Een broek, 'n hemp vir elke dag se stap en warm klere vir die aand is meer as genoeg. Mits jy in die winter gaan is ‘thermals’ en wolkouse 'n goeie idee. Onthou ook jou slaapsak en kussing. Vir welke rede het ons lippe baie droog geword – onthou lip-ice. Verder ook ; Blits vir die vuur, 'n klein kan met koffie, melk, jou kamera en 'n flits. 'n Knerts sjerrie vir om die vuur is ook glad nie 'n slegte idee nie.

 

Wat nog? Daar is 'n opsie dat iemand jou pakaas vir jou na die grot neem. Dit kos R80 vir albei dae. Voeg 'n dag by en besoek Golden Gate. 

 

Geniet dit! 

Lara en Jolene is die mede-stigters van Reis Afrikaans. Vir meer oor hulle besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.