Drie dae in Parys.

Lara Erasmus.

Parys – alombekend as die stad van liefde en spog. ‘n Waaghals wat jou hand sonder skroom in syne neem, en die wêreld dan vinniger en mooier laat draai as voorheen denkbaar. Op ‘n vorige geleentheid was ek vir ‘n dag in dié stad, en om eerlik te wees het ek nie verstaan waarom mense hulle harte en koppe so verloor nie. Na 90-dae in Frankryk het ek egter hals-oor-kop vir Parys geval. Hier is die dinge wat jy nie moet misloop nie, en waarvoor ek weer-en-weer sal terugkeer.

Dag 1 – Verken die ou Stad.

Dit is maklik om te begryp waarom Parys die liefdesstad genoem word. 

Neem die Metro na St. Michel Notre Dame. Parys se publieke vervoersisteem is geheel op Google Maps beskikbaar. Dit vergemaklik die voorheen uitdagende pendelmissie aansienlik. Bo die grond is Parys ‘n toorwêreld – prentjiemooi en perfek. Die ondergrondse spoorwegsisteem ontbloot egter ‘n ander mooi aan die ikoniese stad. Straatkuns en muurkuns en kulkuns. Franse in oorbodige wintersbaadjies se binnesakke word ‘n bewegende basaar – in die linkersak suiglekkers en kitskoffies en in die regter een flouskaartjies na Montmartre se Moulin Rouge. Ek sal nie aanbeveel dat jy met hierdie verkopers in gesprek tree nie. Die vaagste belangstelling word beantwoord met ‘n ongemaklike opdringendheid. Waarneming sonder betrokkenheid beloof egter om ‘n uiters insiggewende en vermaaklike ervaring te wees.

Die pragtige Notre Dame katedraal, voor die brand in 2019.  

Weer bo die grond, is die Notre Dame katedraal jou eerste stop. Die kerk met sy gotiese boustyl vorm die middelpunt van die area waar rondom honderde kafees gons, en selfs meer voete.  Sedert ons vorige besoek aan Parys, het die Notre Dame groot brandskade gely. Die torings en buitehof bly behoue. Ten spyte hiervan beveel ons Rick Steves se Audio Europe toepassing aan. Geniet in jou verbeeldingsoog sy vertelling oor die majestieuse Notre Dame. Steves se toep is gratis aflaaibaar, insiggewend en vol grappies. Die Notre Dame sal na verwagting teen 2025 restoureer wees. 

Daar klaar, is dit tyd vir iets wat Frankryk (in my opinie) selfs beter as die Italianers doen – roomys. ‘n Klipgooi van die Notre Dame is die nou bekende Berthillon Glacier. Toe hy net 30-jaar oud was, het Raymond Berthillon losgebreek van die familiebesigheid en sy voorland as bakker. Hy wou eerder roomys in sy skoonma se kafee maak. Die res is geskiedenis. Die Île Saint-Louis perseel is grootliks in sy oorspronklike vorm behou – propvol ou Paryse sjarme. Om die rede is die perseel ook nooit aangebou nie, en kan ‘n draai-ry buite die deur te verwagte wees. Die wag is egter elke minuut die moeite werd.

Roomys by Berthillon - iets uit 'n ander wêreld.

Stap dan terug na sentraal Notre Dame – stadig en met opset. Stop, kyk, verken – probeer onthou (en as jy uitpluis hoe; vertel my ook). Daar is ‘n aantal brûe wat strek oor die Seine-rivier. Die een naaste aan die katedraal is vernaam bekend as ‘n plek van vermaak. Rolskaatsers, towenaars, dansers, musikante en fortuinvertellers verskyn almal op hul beurt en met groot vertoon. Maak jouself op die sypaadjie tuis, en geniet die skouspel. Ek kon vir ure lank hier sit, kinderlik opgewonde, heeltemal ontroer. 

In Parys is die straat 'n verhoog.

Baan nou jou weg na Shakespeare and Company, ‘n boekwinkel aan die linker voorkant van die kerk. Sedert 1951 is dié boekwinkel ‘n bymekaarkomplek vir skrywers, denkers en dromers. Dit is ook my persoonlike gunsteling plek in die hele Parys. Die boekrakke dra stories en die mure vertel hulle. Op die trappe, trap-vir-trap, tree-vir-tree, pronk die boodskap ‘I wish I could show you, when you are lonely or in darkness, the astonishing light of your own being’. Ek kon middae hier wegsit. Sommige kere met ‘n boek. Ander kere net vir die karakter van die winkel self. Hou dop vir geleenthede, lesings en werkswinkels  ... maar meer daarvan op dag 3. Vir nou is dit eers tyd vir Parys se naglewe.

Die Shakespeare & Company boekwinkel.

Hiervoor was my gunsteling plek die area rondom die Pompidou gebou en museum. Jazz bars, bands en meer tradisionele orkeste is volop. Wyn is duur, maar minstens een glasie hoort op jou kluitklaplysie. As jy nie seker is oor waar om te gaan nie, vra die locals... en as jy kan, gaan dan sommer ook saam met hulle. Onthou dat Parys, veral na donker, ‘n gevaarlike plek kan wees. Bly dus op jou hoede en hou jou besittings aan jou lyf.

'n Jazz-groep vermaak die gehoor tot in die oggendure.

Dag 2 – Museums, Conciergerie, Champs Ellysees en koffie.

Drie dae in die liefdesstad is eintlik hopeloos te min... maar as dit al is wat ‘n mens het, werk jy daarmee. Vandag gaan jy draai by van Parys se bekendste museums, strate en kafees. Aangesien al hierdie aktiwiteite  alleen ‘n dag kan neem, sal ek aanbeveel jy verdeel jou tyd volgens persoonlike voorkeur en belangstelling.

'n Nuwe kommissie by die Louvre. 

Begin die dag by een van die kunsmuseums. Vir die minder kunstige mens klink dit dalk misbaar. Ek was self van dié opinie. Vandag kan ek dit nie genoeg aanbeveel nie. As jy net een dag het hiervoor, is my aanbeveling om die Louvre te besoek. Dis nou die museum wat homself vestig in die ou koningspaleis en spog met die glas driehoek vir ‘n ingang. As ‘n mens een minuut vir elke vertoonstuk in die Louvre op sy sit, sou dit jou vier-en-sestig dae neem om alles binne die museum te sien. Jy voel dus maklik oorweldig – waar begin ek?

Weereens sal ek Rick Steves se Audio Europe toep aanbeveel. Die Louvre-snitlys is ‘n uur lank, en neem ‘n mens na die bekendste kamers in die museum. Dit sluit Picasso se Mona Lisa, die Venus de Milo, die Winged Victory, sowel as Michelangelo se beeldkuns en Egipte se eeue oue skatte in. Met die rondloop, stop en waardeer neem Steves se snitlys in der werklikheid twee tot twee en ‘n half ure. Hierna het ek ‘n paar ander vertrekke op my eie besoek. Jy sal minstens vier ure in die Louvre spandeer, moontlik meer. Maak dus seker jy is reeds vroegoggend in die ry om jou dag en tyd te optimiseer. Kyk uit vir studente-aanbiedinge en gratis besoekdae.

Beeldhouwerk in die Louvre. 

Parys huisves ook natuurlik die Orangerie waar Claude Monet se waterlelies onder andere besigtig kan word. As kunsmuseums nou regtig nie op jou wenslysie is nie, is die Conciergerie se aanhoudingselle, waar Marie Antoinette haar laaste dae spandeer het, uiters fassinerend. Hierdie museum bied ‘n terugblik in ‘n ouer en boser Parys. Vandag hang die koue byt van herinnering aan die mure, en hoor-fluister Antoinette se berugte woorde ‘laat hulle koek eet’.

Marie Antoinette se aanhoudingsel.

Klaar by die museums is dit al na twaalf en tyd vir middagete. Alhoewel heerlike eetgoed geredelik beskikbaar is, is dit ook gewoonlik duur. Ek beveel dus aan dat jy iets te ete saamdra, en in een van die parke of tuine geniet.Goedkoop, dog lekker, kaas en baguettes is by die Mono Prix supermarkte te koop. Sit ook ‘n boek in jou rugsak, en maak ‘n lui-lekker uur deel van jou dag. Neem daarna die Metro na Parys se bekende winkelstraat, die Champs Elysees. Wandel die pad af verby winkels soos Chanel, Cartier en Michael Kors. Uiteindelik sal jy by die Arc de Triomph uitkom. As jou voete nog nie voos is nie, beveel ek aan dat jy die trappe tot bo klim – van daar kry ‘n mens ‘n asemrowende 360-grade uitsig oor Parys.  

Uitsig: Arc de Triomph.

Dag 3 – Geraamtes, geraamdes en die Moulin Rouge.

Daar is ‘n tong-in-die-kies sê-ding onder die Franse dat as ‘n mens lank genoeg in Reims afwaarts grawe ‘n kelder sjampanje jou voorland sal wees. Dieselfde is waar vir Parys en die catacombs. Agter haar grimering, onder die Metro en onder die dreinsisteme, huisves die stad 'n massiewe ondergrondse begraafplaas.Teen die sewentiende eeu het konvensionele begraafplase onvoldoende ruimte gehad. Gebeendere is dus opgegrawe en verskuif.

 

Dit klink dalk na ‘n baie grusame storie. Die proses is egter destyds deur die Katolieke kerk behartig en op ‘n gelowige en respekvolle manier benader. Vir dié rede, en omdat dit ‘n totaal anderste gevoel as die bostad het, sal ek die catacombs aanbeveel.

Van binne die catacombs - Parys se doderyk. 

Die ry staan ure-en-dae, koop dus vooraf ‘n kaartjie op Viator, Get Your Guide of die catacombs webtuiste.  Eers binne, draai die spiraaltrap skerp en skep die illusie dat dieselfde drie trappe weer-en-weer herhaal. Uiteindelik word jy uitgespoeg in ‘n dof beligte doolhof – jy is nou in die sogenoemde koninkryk van die dood. Van hier loop die nou gange honderde kilometers, slegs twee daarvan is egter oop vir toeriste. ‘n Klankbaan sal jou begelei, en vertel oor die bene en kopbene wat tot teen die dak gepak is. Dit is moeilik om te begryp dat ‘n mens tussen regte bene deurloop. Onthou dus om respekvol te wees en niks aan te raak nie. 

Van binne die catacombs - Parys se doderyk. 

Weer bo die grond, neem die Metro na die Montmartre area vir ‘n middag van musiek, kulkuns en die Moulin Rouge. Baan jou weg na Sacré-Cœur basiliek, op met die lang en bekende stel trappe. Bo wag ‘n pragtige kerk en heerlike melodie. Geniet die vertoning!

Buitelug, musiek en 'n magiese middag: Sacré-Cœur basiliek

Agter die kerkgebou skuil die kunstenaars. Wees gewaarsku dat tientalle Picasso’s nou gaan toesak met komplimente in ‘n amusante Engels of stoute Frans. Loop deur, besigtig en geniet. As jy ‘n portret of karikatuur wil laat teken (en ek beveel aan jy doen) maak seker dat jy die kunstenaar op wie jy uiteindelik besluit fisies sien skilder het. Die prente wat voor stalletjies staan is dalk drukwerk of diefstal. Moenie jou daardeur laat flous nie. Om op die Montmartre geskilder te word, beloof om ‘n uiterse bevrydende ervaring te wees - sit dit op jou doen-lys! 

Karikature is 'n lekker onthou-stuk, en verkoop vir so min as R50. 

Keer dan terug na die draai-straatjies waar kulkunstenaars toeriste se 50-Euro note inpalm en spookasem by die dosyn verkoop word. Die Montmartre vorm deel van Parys se rooilig distrik. In hierdie dinge het ek self min belangstelling, maar ‘n wandeling tot voor die Moulin Rouge se windmeul is beslis ‘n foto werd.

"It's the can-can-can! "

Keer nou terug na die Notre Dame area (dag 1) vir ‘n gratis lesing by Shakespeare en Company. Dit is ‘n unieke ervaring en geskiet gewoonlik in Engels. Skrywers van verskillende genres, agtergronde en ouderdomme word genooi om te debatteer, debuteer en deel. As jy (soos ek) lief is vir woorde, is dit sielskos. Gratis wyn en hapgoed word voorsien. 

Geleenthede by die S&C boekwinkel. 

Nou is dit amper tyd om te groet, en is daar nie ‘n beter plek om dit te doen as onder Parys se Eiffeltoring nie. ‘n Vinnige draai by die supermark sorg vir baguettes, hamme, kase en wyne. Lê terug voor die toring, bedink die afgelope paar dae en geniet Parys se bekendste toeriste-aantreklikheid. Wees seker om op die uur op te kyk – dan dans die Eiffel in liggies. Nes die res van die stad, is dit absoluut magies. 

Lara is die mede-stigter van Reis Afrikaans en skryf tans vanuit die binneland. Vir meer oor haar besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.