Vrolik by die KKNK.

Sybrand Harris.

Jaarliks skud die klein dorpie Oudtshoorn haar grootvoëlvere reg vir die grootste geleentheid in die Klein Karoo – die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.  En vanjaar se 23ste KKNK het nie terug gestaan nie. 

Baie mense verstaan nie my obsessie met hierdie vrolike fees in die hartjie van die Swartberge nie. Dis eenvoudig. Ek is ‘n groot aanhanger van Afrikaanse teater, musiek, letterkunde, mooi plekke en smulkos.  Ek dink dis waarom die KKNK vir my een van die uitstaan feeste van Suid-Afrika is – al hierdie goed is gekonsentreer in een (oor)dosis kultuur inspuiting. 

Maar daar is ook iets anders.  ‘n Energie of vibrasie in die lug wat tasbaar is.  Dis moeilik om die ervaring van hierdie fees te verduidelik.  Die beste sal wees om jouself die voorreg te gun om self die fees te gaan waardeer een jaar.  Maar as ek dit moet verduidelik sal ek sê dis iets byna bonatuurlik wat mens seker kan reduseer en 'die atmosfeer’ van die fees noem, maar dis baie meer as dit.  Dit is die frekwensie van duisende feesgangers wat jy optel en jy leef en bestaan op daardie frekwensie vir ‘n week of naweek lank. Daardie frekwensie is beslis verslawend!  Gooi daarby die Klein Karoo natuurskoon, die see sestig kilometer van daar af, 'n paar groot voëls en die mooiste bergpasse dan het jy 'n wenfees op hande. Wat is daar nie om oor obsessief te raak nie.

Vlaggies maak die feesterrein vrolik. 

Op die vraag: "Wat het regtig vir jou uitgestaan van hierdie jaar se fees?" antwoord ek nog voor ek kan dink: die top gehalte produksies wat op die planke te sien was!  Tydens en na elke produksie was ek in so staat van verwondering oor die talent van die akteurs op die verhoog óf oor die slim teks óf oor die fyn tegniese aspek van die stuk óf oor die fantastiese regie óf ek was net totaal en al oordonder deur ‘n stroom van emosies wat die stuk in my hart ontlok het.  Uit elke produksie kon ek iets, op een of ander manier, vir my saamvat en maak nie saak watter genre dit was nie, elke stuk was briljant aanmekaar gesit.  Daar was nie een stuk wat afgesteek het nie. 

Beeld: KKNK.

Só, opsommend: die wyn was in oormaat, die kos was vetmakend, die mense van die Klein Karoo was gasvry en Afrikaans en die omgewing was om van te skilder.  Die fees was weereens vir my so persoonlike en intieme ervaring, want ek kry myself soveel kere wat ek net in woordlose verwondering en waardering staan vir die omvang van ons kultuur en taal (so wyd soos die Karoo!). Tjieng-tjieng.  Op ‘n suksesvolle KKNK 2017!

 

Vir meer van Sybrand, volg gerus die blad @letter.ling op Facebook en Instagram.

Beeld: KKNK.

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.