Lesse van my Uber-drywer.

Lara Erasmus.

Ek is onlangs terug na twee-jaar se voltydse oorsese reise, en waarskynlik al burger wat met welkome oë aankyk wanneer die taxi’s voor my inknip en selfs ook glimlag vir die krag tekort. As die buiteland my een ding geleer het, is dit dat alle lande probleme het. En dat hierdie probleme se blik nie soveel van mekaar verskil soos wat ‘n mens mag dink nie. In Frankryk is ek verskeie kere op die treinstasie opgehou oor die drywers hoër betaling wou hê en in Argentinië het die brandende bande op die sewe-uur nuus my gereeld op ‘n vreemde manier huis toe laat verlang. In Korea was die treine betyds en die proteste meer vreedsaam, maar jong mense was bekommerd oor loopbane en oor trou, en ou mense het bepeins of hul hul jonger dae reg en wys geleef en uitgeleef het. Plekke verskil, maar mens bly mens.

 

Protes-aksie in Buenos Aires het my gereeld op 'n vreemde manier huis toe laat verlang. 

Op die voordag tot ons nasionale verkiesing, kyk ek egter met versigting na die realiteite wat ons land in die oë staar en dit wat sal moet realiseer om Suid-Afrika en sy burgers, almal van ons, op te hef eerder as af te breek. Uit ondervinding weet ek dat die gras nie elders groener is nie en dat gras groei waar ‘n mens water gee. Ek is ook daarvan oortuig dat die vrugbaarheid van ons grond, land en mense onvergelykbare potensiaal inhou. Maar ‘n mens maak die koerant oop en die werkloosheidssyfers, ekonomiese afswaaie en misdaad ontmoedig. Op sulke tye, voor ek myself verloor in ‘n spiraal van negatiwiteit, is ek byna altyd herinner aan ‘n gesprek met ‘n Uber-drywer, kort voor ek Suid-Afrika in 2017 vir Frankryk sou ruil...

''Uit ondervinding weet ek dat die gras nie elders groener is nie en dat gras groei waar ‘n mens water gee.''

Die hoofweg tussen Stellenbosch en Kaapstad strek donker voor ons uit. Die son begin agter die berge verskyn, maar wil nog ‘n oomblik inlê. Daarom is die stilte tussen ons heel gemaklik. Tog vra ek die man of hy sopas begin werk het of amper klaar maak.

‘Vrydae werk ek van 22:00 tot 06:00– die dorp drink en ek werk.',sy oë bly op die pad wanneer hy antwoord. Hy neem ‘n sluk koffie en praat dan verder. ‘Ek was nog nie by baie plekke in Suid-Afrika nie – ek is eintlik van Zimbabwe. Maar ek dink die mense hier drink ‘n bietjie te veel... Hoekom is dit so?’ Sy stem is sag en sonder beskuldiging, maar hy vang my omkant. Ek sê vir hom wat ek dink. Hy luister, geduldig, en vertel dan dat dit baie anders is as sy studentejare in Zim. Die woorde is dadelik vir my opvallend – ‘my studentejare’.

Gedurende 'n rit tussen Stellenbosch en Kaapstad het my Uber-drywer 'n

interessante ding gesê - 'wees dankbaar vir julle paspoort...'

Hy vertel van sy ondergraadse studies sowel as die boekwinkel waar hy gewerk het om te betaal daarvoor. Hy deel dat hy nooit meer as ‘n bier op ‘n weeksdag sou drink nie. ‘Maandag tot Vrydag was studeer my 09:00-17:00 beroep. ‘n Mens is mos paraat en nugter daarvoor.’   Voor my verander die drywer in ‘n man met dryfkrag, aansien en drome. Hy het ‘n meestersgraad in sielkunde, en wou-wou met sy PHD begin toe Zimbabwe finaal die afgronde intuimel.

''Dit is iets so bitterlik eenvoudig, tog het ek nog nooit daaraan gedink nie. Seker oor dit my nog nooit persoonlik geraak het nie. ''

‘Julle moet dankbaar wees vir julle paspoort... Ek haal myne uit en mense lag.’ Hy verwys dan na die drop-down kieslys wat gereeld verskyn wanneer ‘n mens aansoek doen vir werk, ‘n visa, ‘n toelaag, ‘n beurs…die lys is nimmereindigend. ‘Zimbabwe is nie ‘n keuse nie op daardie lysies nie – ek kan dus nooit verby stap een kom nie.’ Dit is iets so bitterlik eenvoudig, tog het ek nog nooit daaraan gedink nie. Seker oor dit my nog nooit persoonlik geraak het nie. Suid-Afrika verskyn immers as keuse op hierdie lyste. Internasionale poste bied ons die geleentheid om aansoek te doen. Ons kan reis. Ons kan leen. Ons kan kom en ons kan gaan. Tog is hierdie man, hierdie gawe gawe man, veeltalig en tersiêr kwalifiseer, ontneem daarvan om dieselfde te kan sê. En dit oor die selfsug van sy tuisland president.

''Hy vertel van sy ondergraadse studies sowel as die boekwinkel waar hy gewerk het om daarvoor te betaal.''

Op die voordag van ons verkiesing is ek dankbaar dat ons land en paspoort nog water dra, maar ook akuut bewus dat dit nie ‘n waarborg is nie.  Ek is gereed om my kruisie te trek, nie so seer oor ek glo in ‘n enkel party of leier nie, maar wel in Suid-Afrika. En wanneer die moedeloosheid klop en vra of hierdie stem wel stem gee, en môre meer na vakansiedag as stemdag wil lyk, val die Uber-drywer, sy naam is Michael, se woorde weer by my op. ’Julle moet dankbaar wees vir julle paspoort. Ek haal myne uit en mense lag.’

Lara is die mede-stigter van Reis Afrikaans en skryf tans vanuit die binneland. Vir meer oor haar besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.