Feestelike OppiKoppi.

Lara Erasmus.

In 'n kits... 

 

Wat het ek nodig? 2 dae (minimum), goeie vriende en ‘n gewilligheid om oopkop die ding te bendader.

Hoeveel? Gaan kyk op Plantkton.Mobi vir volledige pryslyste.

Hoeveel – regtig? Begroot ook vir petrol- en tolgeld. Met die kampgoed saam raai ons aan dat nie meer as vier persone saam in ‘n kar ry nie. Die petrol per persoon het net onder R300 uitgewerk tussen my en twee ander vir verlede jaar se fees (ons het vanuit Hatfield gery). Kampgoed, kos en drinkgoed is ook op jou rekening.

Hoe werk dit? Jou kaartjie gee jou toegang tot die kamp- en feesgronde. ‘n Lapbandjie wat om die arm gebind word dien as jou kaartjie om in-en-uit te beweeg en is later ook 'n lekker onthoustuk.

Hoe? Kaartjies is aanlyn beskikbaar.

Vat saam: Alle kamp-, kos- en drinkgoed. Cereal bars maak vir ‘n lekker en maklike ontbyt, terwyl braaivleis geselligheid om ‘n middagete vuur voorsien. Peuselkosse soos biltong, skyfies en krekers is ook ‘n goeie idee. Op die feesgronde is daar stalletjies met alles van Meksikaans tot Morrocan. Hierdie kosse is heel bekostigbaar en kan as alternatief tot self-pak oorweeg word. Die fees is streng geen kontant – koskaarte moet dus gekoop en gelaai word. Bedags is warm – kortmou klere is dus noodsaaklik tot jou oorlewing en snags weer ‘n mussie , serp en langbroek.

Wat nog? Gaan maak gerus soggens ’n draai by Red Frogs – vars pannekoek en koffie is gratis van hier beskikbaar. 

Geen fees word vir 2019 beplan nie. Die fees sal na verwagting in 2020 hervat. 

Beeld: Oppikoppi Festival. 

Die feesgees begin lank voor ons op die plaas is reeds borrel. Op die N1-Polokwane is kombi’s met blompatrone en bakkies met bakke wat wil bars van die kampgoed en Polo-ruite waarin boodskappe met troukruit neergeskryf is. Werkendes besig met die lang trekpas huistoe swaai hul koppe verwar om wanneer een van dié karrekarakters skielik iets uitskree en ‘n ander een ritmies probeer hoeter blaas. Hierdie komende naweek beteken een ding vir Suid-Afrikaanse musiek- en feesliefhebbers, en vir die eerste keer is ek deel van die lewendigheid oppad na OppiKoppi. Ek is bitter opgewonde. Maar tersefdetyd effens bang.  Die besighede langs die hoofpad maak weg vir  bos, en voor lank wysig die GPS na ‘n grondpad aan ons regterkant. ‘n Smous verskyn by Werner se venster. Hy groet ons in Engels en Afrikaans en dan in Zulu; op sy mou dra hy alles van vrugte tot vuurhoutjies.

Beeld: Oppikoppi Festival. 

Wat in 1990 begin het as n handvol kampers en een of twee musikante staan voor ons as ‘n warboel van tente en geselskap en lewe. Die veld is opgetooi in opwinding. Oral waar mens kyk is daar besig om kampplek opgeslaan te word. Tak en tent vermeng mens en natuur, maar op een of ander manier voel alles in 'n perfekte ewewig. Oor OppiKoppi en die gaan of nie gaan het ek lank gewik en weeg, ‘n onregverdige en ongegronde reputasie wat my oordeel besoedel. Maar vriend en vreemdeling - wie binnekort sou vriend word - maak weg na die kar, hande help afpak en name word uitgeruil. Ek besluit om te vergeet van wat ek dink ek weet. Ek besluit om eie opinie te vorm.

 

Vandag beskou ek dit as die beste naweek van 2017. 

Lindie, Lara, Sarah en Nidia op die feesterrein. 

Ek kan jou vertel van die man wat tussendeur die tente dans en ewekansig plek-plek stop sodat mense sy kitaar teken. Ook van die vyfminuut stappies na die badkamer wat verander in nuwe mense ontmoet, en van die feesganger wat sy hele tent misplaas het. Dalk van die optimis wat na Karin Zoid se show ewe by lost and found gaan hoor of iemand nie sy tand ingegee het nie. Maar van by OppiKoppi wees sal ons ‘n ander keer skryf, want om iewers te wees moet jy eers daar uitkom. En dis waar vandag se skrywe inkom. n Tong-in-die-kies gids oor wat om te pak, wat om te los en wat om te verwag – ‘n hoe om nie jou kop by Koppi te verloor nie.

 

Vinnig word dit duidelik dat dit nie gaan om wat jy bring nie, maar by wie jy kamp. Na ‘n paar minute se gesukkel om tent op te slaan sit ek voet in die lug op ‘n rusbank. Voor my raak Werner en Sarah betrokke by ‘n tafeltennis-toernooi, en om die draai is Keeghan besig om ons bederfbares in ‘n sonenergie yskas oor te pak. Daar is iemand wat musiek speel en ‘n groep wat vanaand se line-up sit en bespreek. Die eerste vertonings begin gewoonlik laat middag. Intussen is dit self besig bly en eie-vermaak – en daarvoor maak ‘n gemaklike kampomgewing die wêreld se verskil.  Oppi-oorlewing 101 wenk een is dus om te kamp met mense wie wéét van. Mense wat na jarelange se Oppi die fyn balans tussen prakties en partytjie bemeester het. Die beste kampomgewing is egter bittermin werd as jy dit nie kan vind nie. Tussendeur duisende tente en grondpaaie wat sirkels loop is dit nie ongewoon vir iemand om by jou vuur aan te kom net om teleurgesteld te besef dat dit nie syne is nie. Oor-en-weer kuier is lekker, maar laataand het mens min lus vir rondsoek in die donker. Merkers soos ‘ons is drie bosse links van Boomstraat’ gee gou oor aan chaos. Vlag of vlaggies werk goed as n duidelike terreinmerker en is sigbaar in die bosveldnag. Onthou ook n slot vir jou tent - waardevolle besittings kan wel in die kar toegesluit word, maar van tent ooplos is jy dalk jou waardevolste kommoditeit kwyt – jou slaapplek. Slotsleutels hang as modegier aan mense se nekke en word in motors gebêre. 

Beeld: Oppikoppi Festival. 

Dan is daar natuurlik n aantal ander items noodsaaklik tot Oppi-oorlewing. In Baz Luhrman se Sunscreen Song lig hy sonskerm en die dra daarvan uit as die belangrikste lewensadvies wat hy vir enige iemand kan gee. My Oppi ‘sonskerm’ item, behalwe nou vir sonskerm self, is hoesstroop. Die kombinasie van daai winter-somer seisoeneveranderingshoesie klou heel moontlik nog in jou keel. Dít en die Oppistof maak vir 'n dodelike kombinasie. Met betrekking tot die stof is ‘n buff wat oor jou mond getrek kan word en sonbrille vir traanoë ook uiters belangrik. Verder is daar natuurlik die higiëne aspek van dinge. Die storte staan rye: wetwipes is dus jou nuwe beste maat en droë sjampoo word die beste uitvindsel van die een-en-twintigste-eeu. Bedags is bakkend, maar snags verander Northam in die Noordpool – ‘n goeie slaapsak en warm baadjie is dus krities tot Koppi.

Met jou kampplek en kampgoed gesorteer kan jy nou fokus op die fees - ‘n duisend mense om te ontmoet, ‘n duisend herinerringe om gemaak te word. ‘n Dip wat gewoonlik gebruik word om beeste vir vlooie te behandel skei die kampplek van die feesterrein. Sekuriteitswagte aan beide kant maak seker geen glas gaan saam met jou die feesgrond binne nie. Duskant wag Karin en Khan, Mango Groove se Claire, en Johnny Clegg met sy kitaar. Die fees trek jaarliks die grootste name in plaaslike musiek, dan is daar ook natuurlik optredes deur internasionale groepe. Alhoewel hierdie kunstenaars iets is om te sien, bied die naweek geleentheid om nuwe talent te ontdek. Maak dus jou weg na middagvertonings waar belowende bands besig is om voet te vind. Die bome gooi heerlik skaduwee en maak vir ‘n luilekker piekniek. Op die boonste verhoë is die groot menere van komedie ook te sien. Oud en jonk geniet die nou. Getroude paartjies loop een hand in die ander; studente drom saam om ‘n Oppi-veteraan; en ‘n groep jong werkendes maak moles by die biertent. Dis skuins voor vyf toe ons komberse opvou en voete maak om shorts vir serpe te verruil. Die feesgronde raak skielik verlate, asof haar gangers wil toelaat dat sy voorberei vir vanaand.

 

Jou beste pel, braaigoed, plastiekbottels, tou…die lys van dinge om te vat gaan aan-en-aan, en sal waarskynlik verskil afhangend van wie jy vra.  Maar vertrou my op die hoesstroop.

Lara is die mede-stigter van Reis Afrikaans en skryf tans vanuit die binneland. Vir meer oor haar besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.