Op toer in Tasmanië.

Karla en Werner Pretorius.

‘n Indrukwekkende vertoning van landskappe en historiese verhale soos jy Tasmanië verken.  Riviere, rollende heuwels, digte woude, sneeubedekte bergtoppe, natuurlewe, plaaslike restaurante, kafees, wêreldklas distilleerders en wynkelders. Maak nie saak waar op die eiland jy jouself bevind nie, jy gaan verras wees met wat jy vind op die ‘klein suster’ van die vasteland Australië ...

 

Hier is ‘n terugblik na ons agt dae (wat hopeloos te min was!) se reis deur mooie misterieuse Tasmanië.

Dag 1

Ons reis het ‘amptelik’ begin met ons aankoms in Hobart, Tasmanië se hoofstad.  Met bagasie in ons huurmotor mors ons geen tyd om te begin verken nie.  Vanaf die lughawe vertrek ons na die top van Kunanyi (Mount Wellington) vir ‘n uitkyk oor die  ou hawe, die waterfront, die stad en omliggende areas.  Die lug is helder blou, snerpend koud en die uitsig prentjie mooi. My Vrystater van ‘n man is die enigste wese in sig met ‘n kortbroek, natuurlik!

Kunanyi (Mount Wellington) vir ’n uitkyk oor Hobart.  

By Salamanca Place geniet ons ‘n lekker seekosdis en wyn. Salamanca is bekend vir sy verskeidenheid restaurante en kunsgalerye, maar veral ook vir die heerlike vars kos en vermaak by die buiteligmark wat elke Saterdag daar plaasvind. Die mark is al ‘n instelling vir die afgelope 48 jaar en sinoniem met die stad. Dit moet beslis nie misgeloop word nie! Hobart is die tweede oudste stad in Australië en is ‘n samevoeging van elegante, Victoriaanse sandsteen-geboue gekombineerd met moderne argitektuur. Dit het ‘n sterk Koloniale gevoel en herinner mens aan ‘n ou Europese dorp.

 

Na ons die waterfront en middestad verder per voet verken, maak ons ons weg na Hadley’s Orient hotel, geleë in die sentrale deel van Hobart.  Dit is een van die oudste boetiek hotelle in Australië. Deftig, warm en gasvry. Ons ontmoet vir Eva, ‘n plaaslike inwoner en kroegdame by die hotel.  Sy deel met ons van haar Hobart en Tasmanië stories en moet-sien-plekke, en stel ons bekend aan plaaslike gin, wyn en whisky.  Hierdie is my en Werner se “roadtrip-must”.  Met ons aankoms by enige bestemming, veral in kleiner dorpe en stede, moet ons ‘n draai gaan maak by die hoek-kafee of tuisnywerheid, of selfs nog beter, die plaaslike kroeg, waar ons graag geselsies aanknoop met die plaaslike inwoners. Hier leer ken jy die mense, die ‘’social-fabric’’ van die dorp, en kry jy soveel inligting en selfs geheime vir jou reis vorentoe. Daar is niemand beter om te vra as ‘n ‘n local nie! En waar kry mens gewoonlik die meeste inligting? Die kroeg!

 

WAT IS DAAR OM TE DOEN IN HOBART?

  • Verken die sentrale deel van die stad per voet;

  • Tasmanië se botaniese tuine;

  • Verken Hobart per water;

  • Hobart is naby geleë aan baie van die  suidelike Tasmanië besieningswaardighede soos Port Arthur, Tasman Peninsula, Derwent Vallei en Mount Field Nasionale park.

Dag 2

Ons trek vroegoggend uit Hobart om die Suidkus te verken.  Die Arthur snelweg neem ons deur oop lande en later bosveld-landskappe na ons volgende bestemming, Port Arthur.  Net voor Eagles Hawk Neck (‘n klein dorpie) raak ons lus vir ‘n koppie boeretroos en neem ons die pad links na die Pirates Bay uitkykpunt. Telkemale is die uitslag van ‘n afdraaipaadjie, onvoorspelbaar en opwindend, van ons gunsteling oomblikke van ‘n reis! Die afdraai is beslis die ekstra minute se reis werd ... Ons word verwelkom met ‘n prentjie mooi uitkyk oor Pirates Bay. Hoë seekranse en rotsformasies, die baai in die voorgrond en ‘n lekker espresso koffie van “Cubed Espresso bar & food”  - ‘n 1957 karavaan wat herstel en ontskep is in ‘n buitelig koffiekroeg.

Werner ontspan te midde van al die avontuur.

 Al met die kronkelende pad reis ons af na die klein kus dorpie, Eagles Hawk Neck. Hier stop ons om die “Eaglehawk Neck Tessellated Pavement” te aanskou. Dit is reghoekige soutwaterpoele wat ontstaan het as gevolg van ‘n seldsame soort natuurlike erosie oor die eeue. Die see water is helder-blou, en aanloklik, maar yskoud.  Die dorpie is ook bekend vir sy verbintenis met die gevangenis-kolonie by Port Arthur, wat in 1832 as militêre buitepos gestig is om enige vlugtelinge wat ontsnap uit Port Arthur te vang.

In Parys is die straat 'n verhoog.

Tasmanië is asemrowend en grootliks ongerep. 

 ‘’Soos wat jy deur die landskap reis is dit opvallend hoe stil die paaie en meeste van die dorpe en stede is. ‘n Groot verskeidenheid ongewone geologiese formasies kom op die Tasman Peninsula voor.  Onder andere, die “Tasman Arch” (natuurlike grotagtige brug), “Devils Kitchen” (‘n spleet van 60m wat tussen die rotse gevorm het) en die “Blow Hole”. – Karla Pretorius

 Die Tasmaniese-kus. 

Die Historiese Port Arthur terrein is waar ons volgende stop.  Die terrein het ontstaan in 1830 as ‘n houtstasie, maar is later omskep om bandiete uit Brittanje te huisves. Vandag is dit ‘n museum wat rekenskap gee tot die geskiedenis van die eerste Australiese gevangenis en word beskou as een van die belangrikste erfenis terreine in die land.  Hier is baie om te sien en doen in die Suide van Tasmanië ... daarom raai ons ‘n week of langer se tyd aan om hierdie gedeelte te verken.  

'n Nuwe kommissie by die Louvre. 

Werner by die Port-Arthur terrein.

 Na ‘n volle dag se toere in Port Arthur mik ons na die ooskus van Tasmanië en reis op die “East Coast Highway” tot en by Swansea. Die roete teen die Ooskus staan bekend as die “Great Eastern Drive” en is prentjie mooi. Dit herinner aan die Overberg, maar is direk langs die see.  Die kronkelagtige snelweg neem ons deur die ooskus se wynlande, woude en kusdorpies met die see wat vir die grootste deel van die pad langs jou uitgestrek lê ... Asof dit saam met jou op reis is. 

WAT OM TE DOEN IN DIE TASMAN PENINSULA AREA?

  • Tasman island skeepstog

  • Impressions Bay Distillery

  • Port Arthur Lavender

  • Three Cape Track.

 Dag 3

 

Ons is vroeg op met ‘n lekker ligte see briesie wat waai. Ons durf om te gaan draf, al langs die karavaanpark waar ons oornag het tot in die middedorp van Swansea. Dit is doodstil in die dorp en meeste van die kafees en bistros is nog dig. Vanaf Swansea kan die Freycinet Peninsula oor die water gesien word.

Op pad gedurende die reis!

 ‘n Plaaslike inwoner bevestig dat die beste wyn op die ooskus tussen Swansea en Bicheno te vinde is. Ek sit dit op ons lysie en so pak ons die pad teen die kus in ‘n noordelike rigting aan. Met die inwoner sy wyn-wenk lê ons besoek af by ‘n hele paar bekroonde kelders, onder andere die Milton Vineyard, Gala Estate, Spring Vale Wines, Devil’s Corner (Werner se gunsteling) en die Freycinet Wynlandgoed.  Na ons finale wynproe by Devil’s Corner ry ons na Coles Bay en Freycinet Nasionale Park op die Freycinet Peninsula en kan ons, soos daardie inwoner, beaam dat ‘n wyntoer beslis op jou doen-lysie hoort! 

Karla by Devil’s Corner

Die Freycinet Nasionale Park is welbekend vir sy verskeidenheid van roetes – daar is dus ‘n kies-en-keur van moontlike avonture wat wag! Met ons tekkies, gemaklike klere nou aan, genoegsame water en (heel toevallig!) na ‘n paar glasies wyn pak ons die “Wineglass Bay” staproete aan.  Die stap na die “Wineglass Lookout point” is relatief maklik  (dit neem ons ongeveer 1uur 30min retoer).  Van daar af na die voet dan die baai is die stap aansienlik moeiliker ... ‘n Paar duisend trappe later bereik ons die baai. Verlate, tjoepstil. Daar is niemand in sig nie, behalwe ‘n klein wallabie wat die strand later besoek. Die water is kristalhelder en die sand is spierwit. Ten spyte van die koue weer is Werner waaghalsig en durf die Antarktiese water aan vir ‘n paar sekondes se lafenis en lawwigheid.

Werner in die prentjie mooi, maar koulike water!

Voor ons die pad verder Noord neem,  stop ons vinnig by die Cape Tourville ligtoring. Daar wag nog ‘n prentjie mooi uitsig oor die kuslyn. Ons geniet ‘n welverdiende burger en koffie by die Freycinet Lodge. Die kos is net so deel van die reis soos enige ander element! Dan is dit terug op die East Coast hoofweg, verder na die noorde, tot op die Heritage-pad tot in Launceston.

WAT IS DAAR NOG OM TE DOEN OP DIE “GREAT EASTERN DRIVE”?

  • Maria Eiland

  • Coles Bay

  • Daar is verskillende stap roetes wat in die Freycinet Nasionale park aangepak kan word.

  • Mount Elephant Pancakes

  • Douglas Aspley Nasionale park

  • St Helens

  • Bay of Fires

Dag 4

 

Ons oornag in die historiese stad Launceston en besoek vroegoggend die Cataract Gorge Reservaat. Hier is ‘n asemrowende kabelkar wat oor die Gorge strek. Daar is ook ‘n heerlike piekniekplek langs die rivier. Die Gorge wemel van mense, meeste is plaaslike inwoners wat met hul kinders na die park kom vir ‘n dag se uitspan op die gras, lekker eet en lekker lag. Launceston is ook bekend vir sy distilleerderye, maar ons tyd is beperk en besluit ons eerder op Josef Chromy se wynplaas waar ons ‘n heerlike kaas-bord en wyn geniet. Ons verneem die Adjunk-wynmaker is ‘n Suid-Afrikaner van die Paarl! Die wêreld is nou maar eenmaal klein.

''You have brains in your head. You have feet in your shoes. You can steer yourself any direction you choose.'' Dr. Seuss

Van hier na Cradle Mountain, ‘n hoogtepunt van ons toer om Tasmanië. Die area is ook bekend as die Great Western Tier. Ons neem die pad deur Deloraine, met sy Georgiese en Victoriaanse geboue, ‘n kunstige klein dorp met geen tekort aan  Boheemse boetiek en tweedehandse winkels nie, dan deur Sheffield en verby Wilmot en kom laat middag by ons bestemming diep in Cradle Mountain aan.  (Die pad in die area is baie smal, gekronkel en vol diere.  Reiswenk: Dit word sterk aanbeveel dat jy in die groter Cradle Mountain-area by of selfs onder die spoedgrense bestuur en eerder gedurende dag as in die aand reis.)

WAT IS DAAR NOG OM TE DOEN OP DIE “GREAT EASTERN DRIVE”?


⁃    Elizabeth Town
⁃    Sheffield se muurskilderye luister toere.

Dag 5


Die dag begin vroeg met ‘n lekker ontbyt by die Lemmon Time Lodge diep in die woud. Die kaggel is al vroegoggend aan en al die gaste is warm aangetrek, skynbaar gereed om die koue berg aan te durf. Vandag besoek ons Tasmanië se mees bekroonde natuurlike besienswaardigheid.  Die berg vorm deel van die Lake St. Clair Nasionale park en is ‘n natuurwonder van formaat.  Ons begin ons stap by Ronny Creek en volg die Overland roete verby die Crater Dam tot by Marion’s uitkyk. Dit is ‘n stewige stap en die natuur elemente hou ‘n goeie uitdaging in.  Ons stap verby verskeie ysmere, onder andere die Wombat Pool, Lake Lilla en Dove lake (die staproete neem ons ongeveer 4 ure om te voltooi.) 

Werner en Karla.

Wat ons op die staproete aanskou het is merkwaardig.  Die kontoere van die berg, die wilde ongerepte landskap bestaande uit eenvoudige grasland tot digte reënwoude, met antieke en vreemde maar inheemse plante, en die oorvloedige natuurlewe van Tasmanain Devils, quolls, wombats en verskeie voëlsoorte.  Merkwaardig.

Stap en nog stap!

Dag 6

 

Ons dae is te vinnig aan die uitloop ... soos dit maar altyd op ‘n reis voel.  Vandag moet ons, ons pad terug na die suide maak.  Ons reis deur die “West Coast Wilderness”.  Dié pad bevestig net weer dat ‘Tassie’ nie ‘n tekort aan kronkel paaie het nie. Die pad is dig gepak met woude, mere en hier en daar ‘n mollige wombat wat saam met skape aan ‘n graspoel vreet.

Ons rit strek vanaf Cradle Mountain deur Zeehan, hier neem ons die afdraai na Strahan om na die rivier-ligtoring te gaan kyk.  Ons geniet weer lekker seekos op die suidkus.

WAT IS DAAR NOG OM TE DOEN OP DIE “WEST COAST WILDERNESS”?


-    Cruise op die Gordon rivier
-    “The West Coast Wilderness Railway”

Dag 7


Vandag spandeer ons vir oulaas tyd in Hobart en Tasmanië. 

Ons neem die veerboot na die bekende MONA (Museum of New Art) vir ’n “out-of-this-world” kuns ervaring.  Na ‘n aantal ure se bewondering van ou en nuwe kunste keer ons terug na die hawe.  Ons sluit die dag af met ‘n stappie deur “Battery Point”, binne stapafstand van die waterfront. 
 

Werner op wal.

Dan gesels ons veral oor al die wonderlike dinge wat ons oor die week kon ervaar en oordink ons die reis, die paaie wat agter ons lê, die plekke wat ons besoek het, asook plekke wat ons in die nabye toekoms moet besoek op ons volgende reis na Tasmanië.

 

Die eiland is ‘n spesiale plek in ons harte bekom. Ons is nog nie eers weg nie en ons verlang alklaar. Ons sal moet terugkom.

Werner en Karla is tans woon- en werkagtig in Australië. Vir meer oor hulle besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.