Werk jou weg om Asië.

Sophia en Johan Ferreira.

Werk as aanlyn Engelse onderwyser en leef jou weg om die aarde. 

 

Where are you from? “South Africa” Oh, South OF Africa. “No, SOUTH AFRICA”.

Na ‘n paar jaar van Engels gee oor die internet vanuit Suid-Afrika, het ons besluit om dit een stappie en 'n paar grense verder te neem... Al wat ‘n mens nodig het is ‘n skootrekenaar, ‘n tikkie braafheid en ’n teelepel waansin. Die resultaat: 10 lande in 10 maande en 'n leeftyd se dankbaarheid.

Thailand, Maleisië, Indonesië, Singapoer, Hong Kong, Filippyne, Kambodja, Viëtnam, Ierland en Rusland – ons nuwe tuislande; kaffee’s en Airbnb’s ons kantoor.  As aanlyn Engelse onderwysers was die wêreld ons oester, en avontuur ons daaglikse realiteit. 

Werk aanlyn en wees geografies vry.  

Híér is HOE ons dit gedoen het:

 

  • Doen ’n TEFL-kursus:

 

‘n TEFL-sertifikaat kwalifiseer jou as Engelse onderwyser vir tweede- en derdetaal sprekers. Hierdie kursusse kan aanlyn voltooi word en moet minstens 'n 120-uur lank wees. Gaan loer op  www.hyperli.com  - hulle het gereeld winskopie kursusse om van te kies. Daarna kan jy aansoek doen by verskeie skole en agente in China of Europa. Esljobsworld is ’n betroubare wegspringplek vir werk-soek. Ons het weeksdae tussen 13:00 en 23:00 deur Skype en WeChat klasgegee. Betaling wissel tussen $4 en $20 per klas. Sodra jy genoeg studente het vir ‘n standvastige inkomste, kan jy jou reis begin beplan. Dit kan tussen drie en twaalf maande neem om hierdie teiken te bereik. 

Sophia en Johan op hul balkon in Maleisië. 

●   Beplan:

 

Daar is heelwat dinge om te oorweeg en in gedagte te hou. Eerste, en dalk die belangrikste – visa’s. Maak seker van die visa vereistes en waarvandaan jy aansoek kan doen. Ons het besluit om Suid-Oos Asië te toer aangesien Suid Afrikaners by meeste van hierdie lande ‘n 30-dae visa op aankoms ontvang. ’n Toeriste-visa is aanvaarbaar aangesien jy nie jou inkomste aanlyn verdien. Kliek gerus hier om meer uit te vind oor jou Suid-Afrikaanse visa of volg dié skakel vir meer op visa-vrye reise vir Suid-Afrikaners. Langtermyn avontuur kom ook met al die draadwerk, werklikhede en verantwoordelikhede van enige ander werk. Doen dus navorsing oor lewenskostes (veral kos, vervoer en verblyf) en stel ’n begroting op.

Johan op kantoor in die Filippyne.

  • Jou roete....

 

Die weer in die buiteland, veral Asië, kan onplesierig wees en neig na uiterstes. Neem dus verskillende seisoene in berekening wanneer jy jou roete-uitleg doen. Plaaslike toerisme-skedules en seisoene beïnvloed ook vlugpryse. Maak gebruik van lae-koste webwerwe soos Cheap Flights vir goeie pryse en bespreek minstens twee maande vooruit. Dieselfde reël geld vir verblyf.

 

Eers in jou keurland, is publieke vervoer,Uber en Grab jou beste maat. Stap of fietsry bly egter die beste manier om alles in te neem en ‘n egte gevoel van ‘n bestemming te bekom. Die Maps.me toep is baie handig, veral wanneer al die strate dieselfde begin lyk en jy nie jou huis kan opspoor nie. Dit werk sonder ‘n simkaart en kaarte kan vooraf afgelaai word sodat jy altyd weet waar jy is.

Sophia en Johan by die tempels in Angkor, Siem Reap. 

  • Verblyf:

Daar is ‘n rede hoekom sekere dorpe en areas baie populêr is onder toeriste, maar probeer ook om  ‘n dorp of twee te besoek waar min of geen toeriste is nie. Dit bied insig tot die ware kultuur van ‘n land en kweek ‘n unieke waardering. Bespreek verblyf op AirBNB of Booking.Com.  Wees gestel op kwalitiet resensies van vorige reisgers. Wees ook op die uitkyk vir plekke met goeie wifi - daarsonder is jou klasgee en inkomste dalk daarmee heen.

Asië: uiters modern, dog propvol tradisie.

  • SIM-kaarte, bankkaarte en oopkaarte.

Wi-Fi, Whatsapp en Skype maak bel maklik. ‘n Simkaart kom wel handig te pas vir toeps soos Uber.  Wat finansies betref, beveel ons kitsbanke aan. Geldwisselaars vra gereeld hoë tariewe en kan agterbaks wees. Ons het ons Suid-Afrikaanse bankkaarte gebruik in 10 lande sonder enige probleme. Onthou om jou bank in kennis te stel. Capitec het die laagste kostes vir buitelandse reise. Verder is die toep XE handig om kop te hou met al die verskillende wisselkoerse. Reisversekering kan ook oorweeg word. Dit is vir sommige lande ‘n vereiste, en dek gewoonlik mediese onkostes en persoonlike besittings. Zürich (nou bekend as Bryte) het vir ons ‘n goeie pakket gebied.

Singapoer. 

  • Kultuur-kaskenades en kommunikasie:

Weet sommer nóú: Engels is gereeld 'n skaarse kommoditeit. Gebare en hul betekenisse verskil ook van die Suid-Afrikaanse konteks. In Asië roep die mense mekaar byvoorbeeld met 'n handgebaar soos wat ons iemand gewoonlik sou wegstuur. Moet egter nie bekommer nie, Google Translate is gratis en ook vanlyn beskikbaar. Meer as dit, is mense amper altyd bereid om te help – al is dit deur gebroke sinne of mimiek-kuns.

 

Met seën van God af was dit die avontuur van ’n leeftyd, en is dit ons absolute plesier om nou, per die Reis Afrikaans visie en missie, ander te bemagtig en te verbind.

Sophia en Johan was voormalig werksaam in Asië sowel as Engeland. Vir meer oor hulle besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.