Vat vyf in Phuket!

Lara Erasmus

Phuket, Thailand – 5 dinge om nie mis te loop nie

 

Ewekansig ryk in kultuur, natuur, en geskiedenis is Phuket die ideale bestemming vir byna enige geleentheid. Van wittebrood-hou, tot familievakansies, backpackers-toere, en 5-ster-wegbreke, bied die kusstad iets vir almal! Hiermee dinge wat jy nie mag misloop nie!

In Phuket is 'n mens nooit ver van die water af nie. Lara afgeneem op een van die strande.  

1: Besoek 'n oliftantreddingspark

As werkers in landerye, ry-parke, en sirkusse, lê die land propvol grustories van mishantering van olifante. Tog is daar stadig maar seker besig om vernuwing plaas te vind met baie plaaslike inwoners en talle toeriste wat hul blik op die olifantindustrie verander. Maak ‘n draai by Elephant Jungle Sanctuary om ‘n unieke groep olifante, elk met ‘n naam en storie, te ontmoet. Hierdie olifante is almal gerehabiliteer en geniet nou ‘n meer natuurlike bestaan.  Jou besoekfooi gaan boonop tot die volgehoue beskerming en regsverkryging van hierdie diere!  

 

Een van die inwoners by Elephant Jungle Sanctuary Phuket.

2. Gaan snorkel!

 

Soos met talle kusstede die wêreld om, is Phuket onder die water selfs nog mooier as bo! Maak gebruik van toeps soos Viator, Get Your Guide, of die plaaslike agente om ‘n dag se snorkeltoer te bespreek.  As alternatief, dien strande soos Kata, Nai Thon, Laem Singh en Paradise Beach ook as wonderlike wegspringplek direk van land na water.

Die diep, blou see wag ... propvol skatte! Lara en Iranda gedurende 'n snorkeltoer.

3. Woon 'n Thaiboks-byeenkoms by ... en draai Bangla Road! 

 

Terug op land, sal jy agter kom dat ‘n bakkie, huilend aan ‘n pynlike Engels-Thai-opname van vorige bakleierye, gereeld die strate afry ... dít dan ter advertering van die bekende (soms berugte) ''Thai Boxing''-geleenthede wat daagliks plaasvind – groot pret! Besoek Tiger Muay Thai in Bangla vir ‘n aand anders as wat jy ooit vantevore beleef het! Daar klaar, bly vir ‘n oomblik in Bangla Road ...Dis nou die straat waar alles van diere, tot ontkleedansers, tot kulkunstenaars, op ‘n dramatiese en gereeld oorweldigende punt saamtrek vir ‘n sensoriese ervaring soos min. Vir dit wat binne die klubs en kroeë gebeur, het ons self min belangstelling. ‘n Wandeling deur die straat, en ‘n bier op die plein sal egter nie berou word nie!  

 

 

 

 

Bangla Road, Phuket.

4. Verken die dagtoere!

 

Slampamper die hoofstrate af, en talle avontuurmoontlikhede is jou voorland! Met ‘n gewoonlike gunstige baht-rand wisselkoers, is Thailand vir ons soos Suid-Afrika vir Europeërs. Ondersoek, oorweeg en kies na hartsbegeerte. As daar egter een dagtoer is wat ons weer en weer sal aanbeveel, is dit die kanoe-ekskursies deur die seegrotte in Phang Nga Bay, gereeld genoem die James Bond Island tours. Baie toeris-gedrewe? Ons stry nie. Die moeite werd? ‘n Honderd maal oor! Vir water helderder as selfs die blouste Maandag, is toere na die Similan-eilande ook uiters bevredigend. Verdermeer, is ekskursies na die bekende Phi Phi eilande ook baie gewild. Weens die hoeveelheid toeriste wat na dié aanbod vlok, beveel ons aan dat jy van ‘n kleiner en meer privaat spoedboot-toer gebruik maak. Selfs nog beter ... maak eerder van die Phi Phi eilande ‘n aparte besoek en verken die minder bekende dele! Meer hieroor in ‘n komende plasing!

 

 

 

Roeitoer: Oomblikke voor 'n mens die seegrotte in vaar. 

Lara is die mede-stigter van Reis Afrikaans. Sy is tans terug in die binneland. Vir meer oor haar besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

5. Ontspan!

 

Thailand spog met van die beste masseringstegnieke en terapeute in die wêreld. Maak ‘n draai by een van die honderde salonne. Maak ook seker dat jy nie die land verlaat voordat jy ‘n Thai-massering gekry het nie ... seer, maar lekker! Ten spyte van soms betwyfelbare reputasies, is meeste van hierdie besighede heeltemal respekvol en sonder ... ekstra dienste. As dit egter jou keuse is, is daardie tipe masseringssalonne ook te vinde – jy sal net harder moet soek, of so hoor ons!

Die bogenoemde is maar net die begin ... hou Reis Afrikaans dop vir verdere opwindende geleenthede in Thailand, en onthou om jou wenke en gunstelinge vir Thailand en ander bestemmings te stuur aan info@reisafrikaans.com!

 

 

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.