Verken Korea se Hoofstad.

Jolene Potgieter & Lara Erasmus.

Suid-Korea...Byna onmoontlik om in woorde te beskryf. Selfs nog moeiliker om binne ‘n paar dae te beleef, wat nog praat van begryp. ‘n Land ryk aan kontras; oorloë en onderdrukking, vryheid en beweging, vooruitgang en, tog,  diepgewortelde tradisie. Waar begin ‘n mens?

Van die kos tot die kultuur, en die modes tot die markte...hiermee ‘n kitsgids van dinge om jou oë voor oop te hou in die hoofstad, Seoul.

Jong Koreane in tradisionele drag in Seoul se ou stad. 

KOS

Korea, in menigte opinie, is ‘n smulparadys. Van die tradisionele lewende inkvis tot  die  meer moderne braaihoender en bier, bied die land iets vir elke pallet. Eerste op die lys is samgipsal, of Korean BBQ. So algemeen en gewild is dit onder die Koreane soos braaivleis onder Suid-Afrikaners. Jou keuse van vark, bees of eend word op ‘n warmplaat gaar gemaak en geniet saam met ‘n verskeidenheid groentes, soppe en rys. Die warmplaat vorm deel van die tafel - kookpassies vind dus plaas te midde van die gesels en geselligheid.

Korean BBQ is 'n melodie van kookpassies, gesels en geure.

Koreane is ook mal oor diepgebraaide hoender. Wanneer die ongemak en uitdaging van eetstokkies meer irritasie as plesier raak, kom die gebruik van ‘n mens se hande as ‘n welkome verligting. Die hoender word byna altyd gepaar met bier (heerlik en verslawend!) en word geniet vir enige geleentheid van sportswedstryde tot huweliksherdenkings. Maar meer daaroor later.

 Jolene, Sarah en Vinette klink 'n glasie bier by die bofbal.

​Restaurante op sy, spog Korea met ‘n verskeidenheid fassinerende straatkosse. As jy rondtes in die winter maak (Desember-Februarie) wees seker om die rooiboon-en-vanilla wafels te probeer. Hierdie wafels word in die vorm van vissies gebak en is rond-en-bont op straat beskikbaar. Besoek ook Kwangjang Market in Jongno-gu vir jou keur van eg Koreaanse groentes, vis, kimbap (Koreaanse sushi) en bredies. In terme hiervan beveel ons  die  viskoekies en -sosaties, sowel as die varknekbredie en pajon (‘n groente en calamari pannekoek) aan.

Die straatmarkte is 'n makietie van nuwe vriende en vreemde kosse.

KULTUUR & AKTIWITEITE. 

 

In terme van kultuur het dit gereeld vir ons gevoel Korea is veel meer as geografiese wêrelde vanuit Suid-Afrika. Daarom kom die Koreane se geite en goeters soms as vreemd, selfs ongeskik, voor. Onthou egter, hulle beleef dieselfde verwarring in terme van ons optrede. In geaardheid is die Koreane van die nederigste en mees behulpsame mense onder die son. Daarmee saam is hulle ook diep gegrond in ‘n stille respek en dissipline, en speel ouderdom en titel vandag steeds ‘n beduiende rol in sosiale strukture. Wees bewus hiervan, maar moet jouself ook nie  te veel daaroor bekommer nie.Voldoen aan die kulturele vereistes soos dit aan jou openbaar word, en vergewe jouself die res.

In minder as 70-jaar het Korea ontwikkel van een van die armste lande na 'n groot ekonomie.

MUSIEK.

 

K-POP of Korean Pop, ‘n absurditeit en vreugde, is sonder twyfel jou tyd  en geld werd. Dié musiek genre, wat deesdae internasionaal opslae maak met groepe soos BTS (oorspronklik uit Seoul) is ‘n mengelmoes van perfekte danspassies, te veel grimering en altyd vermaaklike lirieke.

'n K-Pop battle in Hongdae, Seoul.

Verder spog Seoul ook met ‘n nimmerslapende naglewe. Baan jou weg na Itaewon vir ‘n keur van hipster hangouts en na Hongdae vir ‘n blik op Seoul se studente en studentelewe.

Off the Record - 'n vinyl club in Itaewon. Een van ons gunstelinge! 

Laaste, maar nie die minste – norebang. Óf karaoke, soos die Japanese dit noem. Dink Sing Star op Playstation 2 maal ‘n miljoen. Klankdigte vertrekke, netjies toegerus met mikrofone, luidsprekers en skerms, word per uur verhuur vir dromende Whitney Houstons en Elvisse. Alles van Elsa se Let It Go tot Enya se Echoes in the Rain is op die kieslys beskikbaar. Vir die skamer siele kan daar gesing word met ‘n klankbaan, terwyl die brawes kan waag om hulle eie stemme dik te maak. Sonder twyfel ‘n aktiwiteit wat sal sorg vir skaterlag herinneringe.

Maak seker om Hongdae se bekende groot draairoomyse te probeer. Perfek vir na die norebang!

EG KOREAANS – PALEISE & HANOKHUISE.

 

Seoul se Hanok-buurte bied ‘n blik terug na ‘n tyd lank gelede vergeet en veel meer eenvoudig.Vandag bestempel as ‘n Unesco World Heritage Site staan die houthuisies vierkantig en trots te midde die wolkekrabbers waarvoor Korea deesdae bekend is. Die avontuurlustige reisiger kan bed en hotel ruil vir hanok en slaapmat. Nie net is dit iets anders nie, maar per legende besit die materiale waarmee die huisies gebou is medisinale-eienskappe. Stories loop van Koreane wat vir maande lank in hierdie buurte huismaak, veral om van velkwale genees te word. Noem dit sommer ‘n retreat!

Hanokhuise is eg Koreaans en kan op Booking.Com bespreek word.

Uitgerus en opnuut gesond is dit tyd vir die stad se paleise. Die nou straatjies maak vir die ideale geleentheid om ‘n tuk-tuk te neem na jou naaste hanbok verhuurder, en uiteindelik tot by die paleis. Hanbokke is formeel Koreaanse drag uit die vorige eeu – dink breë pant rokke, swierig in ‘n ryk rooi en warm geel. Vir mans is dit onderbaadjies – juweel blou met breed gebinde belde. Die aantrek van hierdie klere maak vir lekker sports, en besorg ook gratis ingang by die paleise (alhoewel die huur daarvan eintlik duurder is as die toegangsfooi).

Lara in 'n hanbok - groot pret wat deur die Koreane aangemoedig word. 

Gyeongbokgung en Hangdeokgung is die twee grootste paleise in die stad. Die dakke is grys en gepunt, en die mure seegroen. Iets daaraan herinner aan Desember, en met elke inasem soek ‘n mens na  sout. Tog is Seoul een van die min plekke in die land waar die see nie sigbaar is nie. Selfs met die toeriste wat in-en-uit beweeg heers ń voelbare vrede. Aan weerskante is gewaste rooi pilare, wakend oor die loopgange wat lei na die agterpaleis. Ek sit en dink dat al die kleure destyds met die eerste verf baie meer helder moes wees. Maar, die vervaagheid daarvan bring ‘n ander mooi. Die tipe mooi wat aan ‘n bejaarde se hande sit – ‘n mooi wat nie net gesien word nie, maar al self dinge gesien het. 

Die paleise is eg-Asies en baie indrukwekkend.

Die besoek aan hierdie paleise bring ‘n respek en eerbied tot die Korea wat was en ‘n beter verstand tot die Korea wat is. Neem jou tyd en neem in. Wees ook bewus van die spesiale vertonings wat per geleentheid aangebied word, sowel as die daaglikse verandering van die wagte.

Let op na die kleurryke besonderheid en pragtige argitektuur.

GLOBALE INVLOED, KOREAANSE TWIST.

Soos enige land is Korea ‘n produk van globalisering. Buiten die welkome McDondald’s na ‘n dag by die vismark, bied die land ook ‘n interessante twist op ou gunstelinge. Eerste, Amerikaanse bofbal -‘n geliefde sport en ‘n moet as jy in die somer of lenteseisoen (Maart-Oktober) besoek. Die atmosfeer by hierdie wedstryde is heerlik - met die reuk van kos wat in die lug hang en 'n gewemel van mense.

'n Uitverkoopte spel by Seoul Jamsil-park.

Vir iemand wat nie juis ń groot belangstelling in sport het nie, was hierdie een van die dinge wat ek seker die meeste geniet het. Die toeskouers is ‘n skouspel op hul eie – met almal wat baljaar tot dieselfde liedjies EN danspassies in ‘n perfekte harmonie soos net die Koreane kan. Elke nou en dan beweeg die kamera oor paartjies en moet hulle op die ‘soenskerm’ ń lekker sappige soen deel. All in all – ‘n heerlike en vermaaklike aktiwiteit. 

Lara en Jolene is die mede-stigters van Reis Afrikaans. Vir meer oor hulle besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.