Amper soos 'n matroos ....

Chanté Visser

Op O.R Tambo staan ek met ʼn rits vliegtuigkaartjies, ’n hotel bespreking en ’n vroegoggend buskaartjie wat veronderstel is om my by die skip af te laai ... alles goedertrou per epos ontvang. Ook nie voor ek ’n noemenswaardige som geld spandeer het aan die een mediese toets na die ander  en onkostes aangegaan het vir my visum en die lys van benodighede wat ek moet saamvat en inpak nie - ek is alreeds in die rooi en ek weet nie eers of ek lank genoeg gaan oorleef om my eerste salaris te ontvang nie. Só staan ek anderkant doane op O.R Tambo die aand van 4 Januarie 2018 - stoksielalleen en swetsend soos ’n matroos… 


 

Deur haar werk kan Chanté talle bestemmings besoek ... Denemarke (foto 1) en Rusland (foto 2).

Nou kan ek, twee jaar later, getuig dat al daardie vrees en verdoemende denke eintlik net my ekstase vermom het.  Ek het nie ’n benul gehad waarvoor ek myself inlaat nie - en dit was juis dít wat my laat ril het van opgewondenheid. Vandat ek die “matroos”-leefstyl gekies het, het menige belangstellendes my al gekontak met dieselfde vraag: HOE? En dis dan daarom dat ek besluit het om hierdie artikel te skryf, so hier gaat hy!

 

 

 

Aan wal wag die wêreld! Mexico is een van die bestemmings wat Chanté al goed ken!

Binne die struktuur van ’n plesierboot is daar ’n baie groot verskeidenheid van beroepe: van restaurant personeel tot toergidse en ontvangspersoneel, daar is ’n hele vermaaklikheids-departement (met tegnici, kunstenaars, jeug beraders, en meer), ingenieurs van alle geure, kapteins, finansiële beamptes, IT wonderwerkmakers, bemarkers en verkoopsmense, fotorgrawe en sjefs, sekuriteitsbeamptes en brandweermense, dokters en skoonheidsterapeute ... ’n Skip is nie net ’n hotel wat toevallig op die water dryf nie, dis ’n klein (of groot!) dorp wat alles benodig. Die kans is dus groot dat daar een of ander weergawe aanboord is vir dit waarop jy op die land gekwalifiseer of ervare is. Soos met enige werksaanbod, moet jy oor die nodige kwalifikasies en vereistes beskik om in aanmerking te kom vir die betrokke posisie.

In die moderne tye waarin ons leef, is die antwoord op die groot vraag heel eenvoudig: GOOGLE. Daar is ’n magdom plesierboot maatskappye, en nuwes wat hul opwagting maak. Daar is ’n verskeidenheid van webtuises wat jou deur die aansoek proses kan help. Ek dink byvoorbeeld aan werwingsmaatsakppye wat spesifiek vir hierdie industrie werf soos Gourmet Recruitment International (http://www.grisa.co.za) of Concord Personnel Placement (https://www.concord.org.za).

Acapulco.jpeg

Chanté kyk vir eens van die land af water toe eerder as anders om ...

Vir die tradisioneles onder ons, besef ek dat dit meer as effens waaghalsig klink om deur middel van n reeks e-posse, Skype onderhoude en ’n hele bakkievrag vereistes, (doktersondersoeke en paspoort en visums, wat alles geld kos), ’n viegtuigkaartjie per e-pos te ontvang, ‘n nag in ’n hotel in die buiteland te spandeer waarna jy op ’n bus (hopelik nie op pad na nerens nie!) moet klim en hoop dat jy nie met ’n slapriem gevang is nie ... Die lewe van ’n moderne matroos is nie vir fyngevoeliges nie!

Alhoewel skepe verskil en beroepe anders lyk ... is daar tog ‘n paar universele riglyne wat jou vinniger van land tot water kan bring. Hiermee algemene vrae beantwoord ...

Uit haar persoonlike versameling - Alaska (foto 1) en die eerste skip waarop sy gewerk het (foto 2).

Watter vereistes kan jou heeltemal belet om in aanmerking te kom?

 

’n Kriminele rekord sal ongelukkig jou matroos-droom in die wiele ry. Die skip-maatskappy is verantwoordelik vir jou, en moet daarom seker wees dat jy nie onderduimse planne in die mou voer nie.

 

Moet ek ’n universiteitsgraad hê?

 

Afhangende van die pos waarin jy belangstel, is die bypassende opleiding en/of ondervinding ’n voorvereiste.

 

Moet mens ‘n sekere ouderdom wees om oorweeg te word?

 

Niemand onder 21 sal in aanmerking kom vir enige posisie nie.

'n Plesierboot is soos 'n dorp van sy eie - massas mense, werke en moontlikhede!

Watter mediese toestande sal jou uitsluit?

 

As werknemer (ongeag jou posisie) het jy sekere rolle om te vertolk tydens noodgevalle, en daarom is dit ’n voorvereiste om oor volle mobiliteit te beskik. Lang ure se staan en/of loop is ook ‘n daaglikse realiteit. Meeste toestande, belet jou egter nie om in aanmerking te kom nie. Solank as wat jy jou kroniese medikasie vir die lengte van jou kontrak by jou het wanneer jy aan boord klim

 

Alhoewel elke skip verskil en ‘n groot aantal werksmoontlikhede bevat, wat kan ‘n kandidaat oor die algemeen te verwagte wees van die aansoekproses?

 

Dit is geen geheim dat die aansoekproses langdradig kan wees nie. Maar ‘n aanhouer wen! Met die begeleiding van ʼn agent by ʼn werwingsagentskap sal jy op die regte pad bly. Die volledige aansoek proses bevat verskeie komponente insluitend verskeie aanlyn onderhoude, ’n volledige mediese ondersoek, verskeie vraelyste en vorms om in te vul, paspoorte, visums en so meer.

Aan wal is Chanté baie lief vir New Orleans in Florida.

Hoe lyk die ideale kandidaat en aansoek?

 

Die ideale kandidaat het geen tatoeërmerke wat by hul uniform uitsteek nie en ’n natuurlike haarkleur en -styl.’ʼn Groot vereiste is ’n “gasvryheids-persoonlikheid” en leerbaarheid. Die amptelike werkstaal is Engels, so uiteraard is Engels-magtigheid ook ’n moet.

 

Na twee jaar in die bedryf, watter wenke het jy vir voornemende aansoekers?

 

Wel, na twee jaar, pak ek steeds verkeerd en te veel….Berus jouself daarby dat jy nie regtig gaan weet wat vir jou voorlê nie - maar dat daar altyd iemand sal wees wat hulle sal ontferm oor jou as nuweling. Jou troefkaart is om iemand wat reeds op ’n skip werk as kontak te hê - vir wie jy al jou vrae kan vra. (Ek is lief vir gesels, en glo dat daar nie iets soos ’n dom vraag is nie, so druk gerus op my knoppie - @chante.visser of info@reisafrikaans.com)

 

As jy ‘n pos aangebied word, watter prosesse moet in SA gevolg word voor jy vertrek?

 

Ongelukkig sal jy uitgawes moet aangaan voordat jy enige inkomste gaan kry. Jou mediese ondersoek en visa uitgawes kan by R10 000 draai, maar jou vliegkaartjie en een nag se hotel verblyf is nie vir jou rekening nie - dit ontvang jy op die werkgewer se rekening. As jy fooie vir enige iets anders as dit moet betaal, moet jy snuf in die neus kry.

Chanté is ook al tuis in pragtige Duitsland!

Wat is die totale algemene tydsduur van die aansoek tot dat jy begin?  

 

My eie aansoek het twee maande geduur - maar ek was nie juis haastig nie aangesien ek nog my studies moes klaar maak. Dit hang af van die beskikbaarheid van jou posisie, maar maak jouself maar reg vir een tot vier maande.

 

Hoe lyk ‘n algemene werkskontrak? Wat is die duur van ‘n algemene werkskontrak? Watter voordele word ingesluit, hoeveel is verlofdae en tot watter mate word werknemers beskerm?

 

Afhangende van jou posisie, duur ’n kontrak van 6 tot 8/9 maande, gevolg deur ʼn 6/8 weke breek tussen kontrakte. Tydens jou kontrak werk jy sewe dae ’n week, en word jy van gratis mediese sorg voorsien vir dit wat aan boord, deur ’n algemene praktisyn, behandel kan word. Vir enige ernstige gevalle sal jy huis toe gestuur word om tuis behandel te word.

 

Gedrag wat jou afdanking kan verseker is die gebruik/vervoer van dwelms, meer as die voorgeskrewe alkohol limiet (0,04) in jou bloed, sowel as teistering van ’n mede-werknemer of passasier.

 

Betaling sal weereens baie verskil … maar wat is die minimum tot maksimum salaris vir ‘n persoon wat vir die eerste maal op ‘n skip gaan werk?

 

Algemene bedrae wissel van $1200 tot $2000 per maand. Sommige posisies se salaris word aangevul deur fooitjies, wat van nature van dag tot dag kan wissel. Verder is dit die moeite werd om te noem dat gratis verblyf, water, elektrisiteit en kos natuurlik ingesluit is.

Rusland is nog een van die bestemmings wat sy danksy haar werk kon besoek.

Word betaling gemaak volgens die basisland van die skeepsmaatskappy waarvoor jy werk? Indien wel, word werkers toegerus om bankrekeninge oop te maak? Is jou salaris belasbaar in Suid-Afrika?

 

Wanneer jy aan boord kom, assisteer die finansiële beampte jou om ʼn bankrekening oop te maak by Brightwell, waar jy ’n OceanPay bankkaart kry. Jou salaris word hierin betaal. Hierdie kaart kan as debietkaart gebruik word en by enige kassier normaalweg gebruik word, by ’n OTM (op land,  of aan boord) gebruik word, en vir aanlyn aankope. Daar is ’n selfoon toepassing waarop jy jou transaksies kan dop hou en 24/7 hulplyn. Vanselfsprekend kan jy natuurlik jou geld na ’n plaaslike rekening verplaas ook. Jou OceanPay kaart werk reg oor die wêreld, en sit jou Amerikaanse Dollar oor na die nodige geldeenheid vir jou transaksie.

 

Danksy die feit dat die bedrag van internasionale inkomste wat belasbaar is, baie groot is (veel groter as wat jy behoort te verdien), word ons inkomstes nie belas nie.

 

Is skeepswerk seisoenaal gedrewe?

 

Daar word reg deur die jaar, elke jaar mense aangestel. Soos die een persoon se 6 maande kontrak klaar maak, begin die volgende een se kontrak. Ek het al in Januarie begin, en selfs al twee weke voor Kersfees begin, April en ook in Junie. Skepe vaar heel jaar, daarom is daar heel jaar werknemers nodig.

 Chanté is al vir 2 jaar lank werkagtig in die vermaaklikheidsdepartement op 'n plesierboot. Danksy haar werk, is sy ook 'n kenner op menige bestemmings. Sy is lief vir mense, Afrikaans en deel graag haar ervaringe. 

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.