Stellenbosch Woordfees.

Lara Erasmus.

‘n Tasbare magiesheid, woorde wat werklikheid word en skouers krap met bekendes… stomgeslaan skuif ek agter die lessenaar in om rekenskap te gee aan die gewese sewe dae. Die bontheid daarvan wil by my kop uitbars, maar my vingers bly bewegingloos op die sleutelbord, want waar begin ‘n mens? Is dit by Tobie Cronje se vertelling van ken uitstoot vir die pantomime se hekse speel, en dit weer in trek vir sy skoner karakters? Of dit-en-daatjies gesels met Schalk Bezuidenhout? Dalk Saartjie, die feesorganiseerder, wie reeds 48 uur in elke 24 moet inprop, wat rondloop en aandagtig luister na elke feesganger se lofsang, voorstel en kwaal… en nie net luister nie, maar neerskryf. 

 

Fees loop oor in feestelikheid, feestelikheid in vermaak en vermaak noodsaak die gebruik van 'n verhoog. Soos die woord se lettergrepe tereg verduidelik ver-hoog die speelvlak sy bewoner van die ondersittende bewonderaar. Tog, is die beskrywing wat Woordfees 2017 alom omvat, en die woorde wat ek weer-en-weer in verbygaande gesprekke gehoor het – inklusief, eenmakend, insluitend. ‘n Afwesigheid van onderskeid tussen feeskunstenaar en feesganger. 

Saartjie Botha (feesorganiseerder) in gesprek met Tobie Cronje.

By die boektent, waar RSG se Monitor sesuur soggens begin uitsaai, verskyn die vroeë voëls om die spreekwoordelike wurm te vang – in dié geval parkering. Hoe lui die ou grap? In Stellenbosch vang ‘n mens graad vóór jy parkering vind. Tjoef-tjaf is byna elke rond-bond bankie rondom die Boektent beboud. As ‘n tafel ‘n oop plek het, skoffel ‘n vreemdeling in om nuwe vriend te ontmoet. ‘n Ruisende geselsie heers tussendeur die radioluister – ‘n 'wat het jy van hierdie bespreking gedink?' en ‘n 'haai ek wil ook daardie stuk gaan kyk' en ‘n 'man, ek het juis ‘n ekstra kaartjie – kom!'

 

Die samehorigheid onder die mense is heerlik, tog is daar ‘n spesiale woord te sê oor die plat-op-die-aarde-wees onder die bekendes. Die verhoog se vierde muur, die een  wat ten doel die wêrelde van kyker en speler moet verdeel, verdwyn sodra die laaste rëel gespreek word. As dit by teater- of boekbespreek kom, bestaan die vierde muur glad nie.

Woordfees word aangebeid in en rondom Stellenbosch Universiteit. Beeld: SUN

Dis ‘n fees waar Deon Meyer op straat stop om jóú op die naam te groet. Een waar Antjie Krog gesels oor haar Afrika… en vra oor joune. Stories van hierdie samesang dans tussen tong en tand van al wie fees gaan. As almal se verhale hier opgeneem moes word, sal daar ‘n nuwe boek ter bekendstelling wees by Woordfees 2018. Ek deel dus ‘n enekele staaltjie uit my eie ondervinding  met  ‘n Woordfees bekende…

Karin Brynard, bekroonde misdaadskrywer, deel uit haar reise. 

Woensdag – Dag 1. Die dorp, alhoewel ek van te vore ‘n dag of twee hier spandeer het, is vreemd en groot – so ook die program. Ek het ‘n kaartjie vir die op die planke bring van Fiela se Kind, maar tussen my en Benjamin Komoetie lê ‘n goeie paar uur. Links van waar ek nou vir Benjamin sit en wag, nooi die program na ‘n gratis praatjie oor Breyten Breytenbach in die langsaanse bibsaal. Met die besluit om dié geleentheid te gaan bywoon, begin die verwarring. Toe ek daar kom is die personeel tóg besig om kaartjies te verkoop en in te neem.

 

Gratis geleentheid?

 

Sukkelend vroetel ek vir die foon in my handsak, soveel so dat ek nie opmerk dat die vrou voor my, my aandag probeer kry nie. Enigeiemand se aandag, eintlik. Ek kyk uiteindelik op, en stap amper weg, maar dan roep sy terug. Ek is toevallig die persoon wie naaste aan haar staan. ‘Ek het ‘n ekstra kaartjie – moet jy nog koop?’, kom die vraag. ‘Sal gaaf wees, dankie Mevrou.' Ek steek die R100 noot na haar uit, maar sy glimlag breed en wys dit van die hand. ‘My goeie daad vir die dag, buitendien, anders gaan die sitplek verlore met my vriendin wie nie kon kom nie.’ Ek sê dankie, opreg, en ons gesels skoffel-skoffel by die deur in, maar verloor mekaar dan in die see van voete wie almal sitplek soek.

Beeld: Woorfees.

Goed. Bibsaal – 13:00. Nié die gratis Breytenbach praatjie nie – so waar is ek? Die omtrek en vertrek weerhou die antwoord, en vir foon vind het ek nou min lus. Op die kaartjie staan Karin Brynard, en tog oomblikke later word Anjtie Krog en geselskap bekendgestel. Die gesprek oor Chaka se nuwe vertaling in Afrikaans, byna 40-jaar na die eerste vertaling op die rakke gebring is, is geweldig interessant. Maar in my agterkop knaag die vraag – waar is Karin Brynard? Dan tref dit – Computicket druk die kaartjiekoper se naam waar Karin s’n nou op myne staan. Die gawe vrou in die voorportaal was, en is, een van ons land se mees bekroonde misdaadskrywers. Na die boekbespreking is dit nutteloos om iemand te probeer vind, want nou is almal een pad, op pad uit.

 

Toe ek haar egter ‘n paar dae later weer raakloop, die keer met die nodige herkenning ,bewondering en natuurlik verskoning vra, lag sy, en begin ons net so lekker soos ‘n paar dae van tevore gesels. Sy vertel van haar gunsteling boeke, ek van myne, ons klets oor reise en vriende en familie - inklusiwitheid, ‘n ewe speelvlak, ‘n wedersydse opregte belangstelling, en dalk die belangrikste – ‘n mededeling van, en liefde vir Afrikaans. Op 'n onvergeetlike Woordfees 2017. 

Lara is die mede-stigter van Reis Afrikaans en skryf tans vanuit die binneland. Vir meer oor haar besoek die Reis Republiek

SKRYF VIR ONS. 

Ons is voortdurend opsoek na avontuur-diere in die binne-

en buiteland. Gesels met ons by info@reisafrikaans.com

Reis AFRIKAANS

'Met moed, geloof, braafheid en

nostalgie'

  • Facebook
  • Instagram
Bly op hoogte op ons poslys

© 2019 Reis Afrikaans. Alle regte voorbehou. Ontwerp deur Reis Afrikaans.